In vorige plasings het ons ingelig oor voortdurende aksies en interaksies van ons kant met beide CIPC en Afriforum en dit is bemoedigend om te sien dat ons aktiwiteite nou vrugte dra
Herman Lombaard van ons groep het gereeld interaksie met Afriforum gehad en bygedra tot hul ondersoek en tot hul aankoms op die punt om nou die NVG uit te daag oor hul vorige besluit oor die bevriesing van die Sharemax/Nova-bates as ‘n mate van beskerming vir die Skuldbriefhouers

Natuurlik is Afriforum se komende optrede ‘n bevestiging van die geldigheid van Deon Pienaar se lang (en onafhanklike) veldtog om die Reserwebank se oorspronklike optrede en talle aspekte van die sakereddingsplan en die uitkomste daarvan onwettig te laat verklaar en vir die oorspronklike bates, nl. die Sharemax eiendomme waarin die Skuldbriewehouers belê het, aan hulle terug te gee. Deon se hofaksies bly aan die gang

Hierdie jongste optrede in samewerking met die CIPC se optrede verhoog ook die druk op relevante owerhede om uiteindelik toepaslike stappe te neem in die uitvoering van voorleggings aan hulle en aanklagte wat gelê is, wat lankal agterstallig is. In hierdie verband het Herman Lombaard so ver terug as 2014 ‘n klag by die Valke gelê. Ondersoek is onderneem en teen 2018 was hulle gereed om arrestasies te maak, maar niks het gebeur nie. Dié is nie die enigste klag wat deur die jare by verskeie owerhede gelê is nie – tot dusver alles tevergeefs

Wat CIPC betref, is hul ondersoek nog nie afgehandel nie en ons is versigtig vol vertroue dat hulle beduidende uitkomste in die nie te verre toekoms sal lewer nie.